Riana Mouton praat met Crime Beat se Chanette Paul

Hoe dra die geografiese afstand daartoe by om oor Suid-Afrikaanse sake te skryf?

Ek voel soms ongelooflik geïsoleerd hier in Nieu-Seeland. Ek verlang intens na my land, na my mense, na die essensie van Afrika. Dit is ongelooflik frustrerend om in ’n ander land te wees en ’n storie te skryf wat in SA afspeel. Met my nuutste manuskrip het ek byvoorbeeld gesukkel met die pryse van kos. Dit klink seker vreemd, maar ek is totaal uit voeling met kospryse, huispryse, die verandering van die dorpe, paaie, plekname.

Waarom het jy, as vroueskrywer, met Reuk van die dood op ’n manlike hoofkarakter besluit?

Dit was nie vir my moeilik nie. Ek assosieer graag met mans, ek hou van hulle onpretensieuse sienings en opinies. My man is ’n baie passievol en intens – baie van die karaktereienskappe van hom en my pragtige seuns, kom uit in my karakters. Ek neem waar en het al geleer om ’n digitale opnemer byderhand te hou wanneer die manne op hulle stukke is.

Wie is Junior Scheepers, jou hoofkarakter, wanneer hy om middernag in die spieël kyk?

Junior wil graag ’n goeie ou wees en ’n voorbeeld vir sy sussie. Hy wil graag uitstyg en nie ’n slagoffer van sy liefdelose kinderjare wees nie. Maar hy is soekend na sy eie identiteit. Hy gaan steeds gebukkend onder die seer van verwerping en bitterheid – hy is sy eie grootste vyand.

Beoog jy moontlik ’n reeks?

Ek beplan beslis nog ’n boek met Junior en Gerard in die hoofrolle. Ek het ’n reuse reaksie en aanvraag gekry van mense wat graag nog van Junior wil lees.

Waaroor het dit vir jou in Reuk gegaan?

Vir my was daar twee kante waaroor ek wou skryf. Die moordenaar se kant en Junior se kant. Ek het Dave Pelzer se boek A boy called It gelees. Ek was vir dae lank stil oor die hartverskeurende mishandeling wat hierdie kind moes verduur. Meer nog, was ek in awe oor die sukses wat hy van sy lewe gemaak het. ’n Vriend my ook vertel van Stewart Wilken alias Boetie Boer. Wilken is ’n veroordeelde reeksmoordenaar wat seuntjies en vrouens vermoor het. Wilken en Pelzer se kinderlewe het baie ooreengestem. Ek het dieper gedelf, baie navorsing hieroor gedoen, ’n duisend vrae gevra. Wanneer word iemand ’n reeksmoordenaar? Is dit ’n keuse? Is dit die mishandeling? Want reeksmoordenaars is nie geestelik versteurd nie. Hulle is meestal ‘normaal’. Slegs enkeles soos Ed Gein, is kranksinnig verklaar. Nie eens Dahmer was versteurd nie. Wat dan, in hierdie mense, laat hulle hierdie siek dade pleeg? Wat laat iemand nekrofilie pleeg? Wat laat iemand jou eie kind vermoor? Ek het ontelbare ure spandeer om na te lees oor hierdie onderwerp.

Ek was baie bevoorreg om Prof. Gerard Labuschagne te leer ken. Hy het na al die aspekte van my moordenaar gekyk en raad gegee. Sy ongelooflike insig en uitsonderlike aanvoeling het my heelwat idees gegee wanneer ek onkreatief gevoel het. Dit was vir my belangrik dat die leser sou verstaan hoe die polisie regtig werk – wat ’n profielsamestelling is. Terloops, die profilering in Reuk, is werklik deur Prof. Labuschagne opgestel.

Reuk van die dood en Spoorloos het manlike karakters in die hoofrol gehad. Is dit makliker om 'n spanningsverhaal te skryf deur die oog van 'n man, of dink jy 'n vrou sou dit net so goed kon vertel?

Dit is nie vir my moeilik om deur ’n man se oog te skryf nie. Ek het DRIE van hulle dag en nag om my. Ek moet wild skarrel en soms my voet dwars sit, om my eie vroulikheid te behou in ‘’n huis vol ramme!

Ek hou van my man en seuns se onpretensieuse sienings en opinies. Die Engel is ’n baie passievol en intens – baie van die goeie karaktereienskappe van hom en my pragtige seuns, kom uit in my karakters. Ek is ’n baie goeie waarnemer. ’n Analis ook seker. Mans is soms, net soms, sonder ‘tierlantyntjies’, oop en op die man af.

Ek is seker ek sal ’n vrou ook kan vertel. Ek beplan dit al ’n hele rukkie.’n Sterk vrou. ’n ‘on-bang’ vrou met oemf in haar gebeentes !

Wat kom eerste na jou toe, die storie of die karakters?

Die storie. Beslis. Ek broei vir weke, nee, maande lank oor ’n idee. Ek bou die storie terwyl ek skryf.

En hoe het Junior na jou toe gekom?

Junior is my held van my kinderdae – die storieboekheld van wie ek sou hou. Wanneer ek ’n boek gelees het, het ek my altyd probeer voorstel van hoe my held sou wees as ek ’n boek sou skryf: Heerlik onperfek, onopgesmuk, pittig, stout en donker.

Ek sien jy bedank onder meer vir Deon Meyer agter in jou boek. Het sy boeke jou geïnspireer om die misdaad-genre aan te pak? Wat was sy beste raad aan jou?

Ek het die hoogste agting vir Deon Meyer se werk. Sy beste raad aan my was om my eie stem te vind en dit so sterk te maak soos wat ek kan. Die inspirasie om te skryf en spesifiek vir die boek, het egter uit ’n ander oord gekom. Professor Tom Gouws het die saadjie in my geplant om te begin skryf.

Wat het jy geleer uit die skryf, asook die ontvangs, van jou debuut?

’n Skrywer is eensaam. Dis ’n emosionele ding – dis ’n donker ding. En die mense om jou, verstaan nie wat dit is om te skryf nie. Emosies wat wipplank-ry, skrywersblok, telefoon wat lui, mense wat kuier … en NIEMAND wat verstaan dat ek net wil skryf nie! Dit is ongelukkig nie vir my beskore om op ’n idilliese eiland, in ’n pragtige afgeleë strandhuis, voor ’n oop venster met ’n wapperende wit kantgordyn te kan sit, met ’n tikmasjien en ’n glas wyn nie. Die gelui van die telefoon kan jou die perfekte sin laat vergeet. My manne het gelukkig met my tweede boek beter verstaan en my ongelooflik gehelp. My man het ’n lekker manier om my te beskryf wanneer ek skryf: The lights are on, but nobody’s home … Ontvangs van my debuut? My man wou weet wanneer ek al hierdie goed uitdink en my ma het my bekommerd gebel. “My kind, wat gaan die dominee sê?”

Wil jy dalk iets verklap oor jou volgende boek?

My volgende boek is nie ’n opvolg op Reuk nie. Ek wou so bietjie asem skep na al die navorsing, foto’s, dossiere en artikels oor reeksmoordenaars. Ek het ’n ding daaroor as iemand ander mense onderskat. Soos onlangs met Susan Boyle op Britian’s got Talent – sy is op grond van haar voorkoms geweeg en te lig bevind nog voordat sy begin sing het. Mense kan soms bevooroordeeld wees – snobisties, pretensieus. En oordeel dikwels ander op hulle kleredrag, grootte van die motor of dikte van die beursie.Alex Cloete is ’n man wat deur sy vyande onderskat is – met dodelike gevolge …

Riana het op aanvraag twee kort, maar betekenisvolle uittreksels gestuur wat die essensie van Junior weergee.

Junior gaan sit voor die televisie. Nina is besig om haar klere uit te pak. Hy soek afgetrokke deur die kanale, maar daar is nie programme wat hom interesseer nie. Hy sit die televisie af, sit agteroor en steek ’n sigaret aan. Hy oorweeg dit om te lees maar hy weet hy sal ook nie gelees kry nie.

Die aand is warm en drukkend. Somtyds voel dit asof hy uit die swart modder wil opstaan; asof hy diep wil asemhaal en uitbundig wil leef. Maar dit het deel van sy bestaan geword. Pyn en onsekerheid het hom stomp gemaak. Hy druk die sigaret in die asbak dood. Hoeveel verskonings het hy nie vir homself gesoek nie? Hy wou dit aan Suzette verduidelik. Maar hy kon nie.

Hy stap buitentoe. Op die agterstoep kyk hy op na die helder sterre. Hy kyk na die donker onder die bome waar die buiteligte nie reik nie. Hy hou van die donker. Hy weet nie waarom nie. Miskien omdat hy ’n donker, sinistere kant in homself ontdek het.

Iets het tog verander. Hy wil wéét en lééf. Daar is ’n sprankie hoop. Hy wil vergeet. Hy wil opstaan.

Dis nie hoe ’n man val nie, maar dis hoe hy opstaan

Sy oë versag. Edwin Abrahams. Hy was ’n affirmative action- aanstelling – het te midde van groot vyandigheid in die pos ingestap. ’n Stil man. Stoer. Regverdig. Hy het sy gesin jare gelede in ’n motorongeluk verloor; sy lewe weer aanmekaar gesit en weer getrou.

Hy dink aan die redes waarom hy ’n flikkering van hoop ervaar. ’n Opbruising van adrenalien – die liggaam van die vermoorde jong meisie het ’n gesig en ’n naam gekry. Hy voel weer die opwinding van die jag in hom.

En dan later ’n toneel wat by die bostaande uittreksel aansluit, waar Junior deurbreek – waar hy terugveg.

Stewart stap vinnig tot by sy voertuig. Hy hoor Junior agter hom aankom. Hy rek sy treë en kom eers by sy bakkie tot stilstand. Hy sluk en draai om.

“Junior, ek . . . . . . ”

Die eerste hou tref hom vol in die maag. Hy vou dubbel en snak na sy asem. Hy hou sy hand uit. “Junior wag . . . . . . ”

Nog ’n hou in sy maag, die volgende op sy regterwang. Sy kop ruk agteroor. Hy val teen die voertuig.

“Asseblief . . . . . . ”

“Vat jou pak soos ’n man, Stewart.”

Stewart hyg na asem. . . . . . . Die volgende hou tref goed. Stewart se kop ruk agteroor en hy syg grond toe. Bloed stroom by sy neus uit toe Junior oor hom buk. Hy ruk Stewart orent.

“Jy het haar lewe verwoes, Stewart.” Sy stem breek. “Jy wou my bykom, of hoe?” Hy slaan. “Of hoe, Stewart?”

Stewart hyg. “Junior, asse . . . . . . ”

Hy gryp hom voor die bors, druk hom teen die muur vas. “Jy het dit amper reggekry, Stewart. Jy het dit wat vir my kosbaar is, amper vernietig.” Hy los, skud sy kop en blaas sy asem uit.

“Dis nie hoe ’n man val nie, Stewart. Dis hoe hy opstaan.”

Hy druk sy gesig in James s’n . “Ons sal weer opstaan.”

hy draai om en stap weg.

James Stewart sak af op sy hurke.