Ilse Salzwedel het Riana Mouton per e-pos met vrae gepeper:

Riana Mouton woon tans “vir ’n seisoen” saam met haar man en seuns in Whangaparaoa, Nieu-Seeland.

“Ek en Anton het dit (oorsee getrek) gedoen sodat ons kinders meer geleenthede kan hê. Ons het twee pragtige seuns wat albei baie goed is in sport, veral rugby en krieket. Naude, die oudste, is 15 en speel albei op provinsiale vlak. Arno is 11.”

Riana meen die dood van hul oudste kind, Maryke, 12 jaar gelede in ’n ongeluk het baie te doen met hoe sy en Anton ouerskap beleef. “Ons is steeds broos daaroor en sal vir die res van ons lewe daarmee moet saamleef. Daarom is daar niks wat ons nie vir ons kinders sal doen nie. Ons het baie opgeoffer om hierheen te kom en gaan hier bly tot die seuns universiteit toe kan gaan.”

Daarna, skryf Riana per e-pos, kom sy en Anton terug huis toe. “My bloed is ’n diepgroen?.?.?.”

Sy skryf nie net boeke nie, maar is “bankier in die dag, ma in die aand en skrywer in die nag”

hoekom het jy juis hierdie genre gekies?

Ek vermoed dit het baie met my persoonlikheid te doen. Ek is ’n tierlantyntjielose mens wat glo aan ’n reguit, op-die-man-af manier van dinge doen. In hierdie genre kan ek uiting gee hieraan.

Wee die dag dat ek my hand aan ’n liefdesverhaal slaan?.?.?. Dit sal so lui: “Ek het jou lief, jy het my lief. Raait. Kom ons trou.” Ek is nie een vir misverstande nie, en die ellelange misverstande in byvoorbeeld liefdesverhale maak my lam.

Ek hou van opwinding, hou daarvan om my kop te gebruik. (Die Engel voel ek moes ‘n speurder of ’n advokaat gewees het.)

Wat fassineer jou van jou genre?

Ek het onlangs Shutter Island van Leo da Caprio gesien. Ek was so vies. Ek kon vooraf reeds die storielyn raai en ek het in die stilligheid gedink daar móét ’n verrassing wees, want dit was net te opsigtelik. Wat my fassineer, is hoe ver ’n skrywer met my kop kan smokkel, en hierdie fliek het jammerlik gefaal. Elke boek of fliek wat ek lees of kyk is vir my ’n uitdaging. Ek hou daarvan om verras te word.

Hoe kies jy ’n storielyn?

Ek broei weke daaroor. Maande. ’n Storie begin vir my by ’n idee. Gewoonlik iets wat my omkrap of fassineer. Ek skryf ’n storie en vra myself heeltyd af waarvan ek as die leser sou hou.

Hoeveel navorsing gaan in so boek in?

Reuk van die dood se navorsing het my maande lank besig gehou. Ek het geweier om ’n klomp spookasem in my boek te gebruik. Die kosbaarste raad wat ek by my uitgewer, Dineke Volschenk, gekry het was om nooit my leser te probeer mislei nie.

Ek het honderde misdaad-dossiere gelees, foto’s gesien en ook die voorreg gehad om prof. Gerard Labuschagne, hoof van die SAPD se sielkunde-eenheid, te leer ken.

Hy het na my karakter gekyk en ’n profiel saamgestel wat ek in die boek gebruik het. Gerard het my ongelooflik baie gehelp en baie idees gegee wanneer ek aan skrywersblok gely het. Ek het ook ’n lykskouing bygewoon, maar kon helaas nie lank uithou nie.

Met Spoorloos was ek reeds in Nieu-Seeland en moes ek meestal van die internet gebruik maak. Gelukkig het ek lt.kol. Blikkies Blignaut leer ken en hy het my gehelp met die navorsing oor wapens en gevegskuns.

Vertel ’n bietjie van Nieu-Seeland.

Daar is beslis ’n rede hoekom ons hier is. Ons vind die land pretensieloos, rustig en ondramaties. Die aanpassing was reusagtig omdat ons amper ’n persoonlikheidsverandering moes ondergaan om aan te pas.

Dis ’n pragtige land. Senutergend groen. Dit reën baie hier en ons moes gou die gewoonte aankweek om reënjasse, sambrele en rubberstewels in ons motors te hê. Daar kan soms vier seisoene in een dag wees en die weer hier is uiters onvoorspelbaar. Maar dis rustig en veilig hier.

Wat mis julle van SA?

Die essensie, die ritme, die sonskyn. Ons mis regte egte braaitjops en skaapribbetjie. (Kiwi-skaap proe vir my soos wol.) Ek mis sout wat sout is, suiker wat soet is, speserye en gerookte Weense worsies.