Marion Erskine gesels met Riana Mouton

Waarom het jy begin skryf? Wie was jou inspirasie?

My inspirasie was beslis Prof. Tom Gouws. Ons het eendag in ‘n restaurant gesit en toe vra hy my uit die bloute, waarom ek nie probeer om ‘my hand aan ’n pen’ te waag nie.

Hy het hom glo heerlik verkneukel aan my e-pos aan die Gouws gesin. Die saadjie was gesaai. En omdat ek ’n doener is, het ek ’n paar dae later probeer.

Jy bly tans in Nieu Seeland saam met jou familie. Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Oeee ! Waar begin ek? Ek mis die Saterdae-swembad-braaivleis-en-pap-dae, WIT aspersies, Estcourt Vienna’s, regte egte (Boere) skaaptjops. Ek mis goeie boere troues, ingelegde perskes en Theuns Jordaan !

Ek mis die bosveld kampvuur en potjiekos. Maar boweal mis ek die essensie van my land, die hartklop. Die gevoel dat ek hoort. Afrika is in ’n Afrikaner se bloudruk – in ons gebeente ingeweef; in ons siele ingebrand.

Wat is die vreemdste tradisie wat jy nog daar raakgeloop het?

O, ek het al twee keer in die slaggat getrap. Kiwi’s nooi ’n mens vir ‘tea’. Dit beteken jy word vir ete genooi. As hulle sê: Come for evening ‘tea’, dan beteken dit kom vir aandete.

Dit het twee keer met my gebeur dat ek mense vir ‘tea’ nooi, koek en tert gereed het en dan daag hulle op met slaaie en knoffelbrood. Dis dan wanneer die Afrikaner kalmte oor mens kom, jy jou gesig reghou en blitsig ‘n ete aanmekaarslaan terwyl die gaste niksvermoedend kuier.

En dan ook die tradisie om jou skoene uit te trek voordat jy by iemand se huis ingaan. Daar lê gewoonlik ’n hoop skoene voor die voordeur en as jy ingenooi word, moet jy jou skoene ook uittrek. Gate in kouse of nie ! Ek verpes dit !

Affekteer al die Engels praat nie soms jou grammatika nie? (Ek weet myne is all over the place)

Natuurlik. Ek het nooit gedink dis moontlik nie, aangesien ek ’n Afrikaner in murg en been is. Met my nuutste boek se redigering, was my grammatika orals – die meeste sinne agterstevoor.

Ek was geskok dat my Afrikaans so onsuiwer en agteruit gegaan het. Ons het ’n reël in die huis dat ons slegs Afrikaans tydens naweke praat. Ons wil nie hê ons pragtige seuns moet ons taal verloor nie. My jongste, Arno, sukkel met die Afrikaans en ons lag soms trane uit vir hom as hy so direk van Engels na Afrikaans toe vertaal.

Nou die dag het my seun, Naude ’n nota in sy hempsak gehad wat hy vir sy onderwyser moes gee. Toe hy by die skool afklim, kyk hy verskrik na my : “Ma my noot (nota) is nie meer in my sakket (pocket) nie.”

Spanningsverhale is 'n baie populêre genre, veral deesdae in Afrikaans.
Waarom dink jy dit is die geval?

Ek dink met Suid-Afrikaanse spanningsverhale kan baie mense mee identifiseer. Dan dink ek ook dat die skrywer in SA ‘n tipe van voorsprong bo die internasionale eweknieë het. Want ons kan net elke dag se koerant lees. Of ’n gesprek met ‘n speurder, of polisieman hê. Waar anders as in Suid-Afrika, kan skrywers soveel navorsing doen met soveel unieke navorsings materiaal.

Reuk van die dood en Spoorloos het manlike karakters in die hoofrol gehad. Is dit makliker om 'n spanningsverhaal te skryf deur die oog van 'n man, of dink jy 'n vrou sou dit net so goed kon vertel?

Dit is nie vir my moeilik om deur ’n man se oog te skryf nie. Ek het DRIE van hulle dag en nag om my. Ek moet wild skarrel en soms my voet dwars sit, om my eie vroulikheid te behou in ‘’n huis vol ramme!

Ek hou van my man en seuns se onpretensieuse sienings en opinies. Die Engel is ’n baie passievol en intens – baie van die goeie karaktereienskappe van hom en my pragtige seuns, kom uit in my karakters. Ek is ’n baie goeie waarnemer. ’n Analis ook seker. Mans is soms, net soms, sonder ‘tierlantyntjies’, oop en op die man af.

Ek is seker ek sal ’n vrou ook kan vertel. Ek beplan dit al ’n hele rukkie.’n Sterk vrou. ’n ‘on-bang’ vrou met oemf in haar gebeentes !

Dis aaklig om vergelyk te word soms, maar baie meen jy is die vroulike 'Deon Meyer'. Wat beteken dit vir jou? 'n Eer of 'n 'label' wat jy graag sou wou afskud?

Die vroulike Deon Meyer? Jitte ! Ek dink ek het nog vêr om te gaan, baie om te leer ! ’n Eer. Beslis.

Maar ek sou nie graag enige labels wou hê nie. Ek wil met niemand vergelyk word nie. Want elke skrywer het sy eie stem. En met elke boek, word jou stem sterker. Ek skryf nie om pryse te wen nie, nie om ryk te word of vir ‘fame’ nie. Ek skryf omdat ek propvol vertel is !

Waaraan werk jy tans?

Ek is pas klaar met my derde boek, Nemesis. Ek is nou besig met ’n nuwe boek waaroor ek baie gespanne en ook baie opgewonde is.

Voltooi. Riana Mouton is iemand..

Met ’n huppel in die stap, ’n vonkel in die oog en ’n lied in die hart !