Resensie deur Stoffel Cilliers

SPOORLOOS deur Riana Mouton

GOEIE spanningsverhaalskrywer gaan listig soos ’n spinnekop te werk. In die begin van die storie lok sy (soos in hierdie geval) die leser subtiel ál dieper in haar web. En gou wíl hy nie uit haar verleidelike wêreld ontsnap nie.

Die tegniek wat Riana Mouton met hierdie doel voor oë so doeltreffend inspan, is funksionele terugflitse wat ’n blik op al die vernaamste karakters se verlede werp en tegelyk hul persoonlikhede uitbou.

Die leser ontmoet Alex in ’n polisiesel ná ’n naweek se sinnelose gefuif. Sy lewe is uitsigloos. Sy eksvrou sterf geheimsinnig en sy sesjarige seun verdwyn. Dit lyk ook asof die hoogs geheime sendings van sy weermagdae wil boemerang.
Alex kry weer koers toe hy sy vermiste seun gaan soek.

Die skrywer het deeglik navorsing gedoen oor “CQB – Close Quarter Combat” – waarin Cloete intensief opgelei is. Deurgaans dril hy homself, soos sy instrukteur destyds: “Fokus, Alex. Transition, position, technique. Beheer jou asemhaling. Bly kalm” (bl. 59).

Byna die helfte van die roman – vir sommige lesers dalk te lank – word die grondslag gelê voordat Alex eindelik Durban binnery waar die vonke aaneen spat.

Sommige gebeure oortuig nie heeltemal nie en Alex slaag soms op ’n byna bo-natuurlike “MacGyver”-wyse om uit die moeilikheid te kom. Mouton bevredig die leser op emosionele vlak en daarby is die verhaal nie voorspelbaar en oplossings nie ooglopend nie. Die sielkundige spel tussen Alex en sy teenstanders boei enduit.

Mouton skep spanning deur haar held se haarfyn, logiese beplanning, al wil hy innerlik ontplof; deur dramatiese dialooggebruik, wisselende sinsbou, grafiese beskrywings van die oorvloedige uiterlike aksie en hewige, intense gemoed­skommelings.

Die spanningslyn styg ook deurdat Alex se soektog blitsig wissel van Pretoria na Durban, van Suid-Afrika na Nieu-Seeland (waar Mouton woon), van klein vissie na baasbrein.

Die skrywer is waarskynlik ’n knap skaakspeler. Sy dui korrek aan Alex se kosbare skaakstel, die Dublin Series Timeless-skaakstel, het 34 stukke – “twee ekstra koninginne vir wanneer die pionne promoveer” (bl. 50).

Dit is egter veral duidelik dat sy haar intrige ver vooruit beplan.

Sy is besonder bedrewe in die plasing van leidrade en verskaf sodoende vir die oplettende leser ’n opwindende skattejag-avontuur om te kyk watter van sy raaiskote die kol tref.

Heel gepas in ons valse samelewing: Elke tweede karakter het ’n geraamte in die kas. En wanneer dit poppemeester Riana Mouton se netjies beplande intrige pas, tuimel daardie geraamte op die vloer.

Die skrywer is ewe tuis in haar uitbeelding van vroue- as manskarakters. Deur een van haar sterk punte, natuurlike dialooggebruik, verskaf sy insig in haar karakters en bevorder sy terselfdertyd haar besonder boeiende styl.

Opvallend is feitlik alle hoofkarakters toon in die loop van die verhaal individuele groei. Daar is egter ook radikale ontwikkeling in die onderlinge verhouding tussen die karakters.

Dit gebeur omdat die skrywer haar deurentyd toespits op ’n sterk sielkundige onderbou as deel van haar oortuigende karakterbeelding. Die ontknoping dui dan ook bevredigend aan watter invloed die intens spannende gebeure op die onderskeie karakters gehad het.

Reeds met haar debuutwerk in 2008, Reuk van die dood, het Mouton as die eerste vroulike speurromanskrywer in Afrikaans sukses behaal toe dié roman die kortlys vir die ATKV-prys vir spanningsfiksie gehaal het.

Met Spoorloos sal sy waarskynlik meer as ’n hand vol aanhangers permanent in haar web vang.

’n Kenmerk van haar jongste werk is die leser word deurgaans van betekenisvolle inligting, meer net as ’n spannende intrige, voorsien. Dit maak daarvan ’n belangwekkende, stewige spanningsroman, afgerond met ’n hoogs bevredigende klimaks.