Spoorloos deur die oë van ander:

Leoné Tiemensma:

In Spoorloos se proloog word ’n raaisel rondom twee moorde geskets en die donker wolk van hierdie gebeure is die spanningslyn wat deur die verhaal loop. Die spanningselement is van die eerste sin af teenwoordig: “Middernag was nog altyd die beste aanvalstyd.” Die proloog sluit af met “Jy gaan betaal hiervoor.”

Die hoofkarakter, Alex Cloete, het ’n blink toekoms gehad, maar nou is hy ’n dronkgat, ’n slapgat. Alex was deel van ’n spesiale taakmag in die weermag. “Waar het dit begin? Dis die bloed aan sy hande. Bloed roep om wraak.”

Mercia het net voor die ongeluk ’n reuse-som geld in sy rekening inbetaal en hy het geen idee wat dit beteken nie.

’n Geheimsinnige besoek laat Alex besef Zander leef nog. Alex volg hierdie spoor op. Hy is bereid om alles te waag om sy kind terug te kry. Sy teenstanders besef dit en buit dit uit.

Die verhaal word een groot nagmerrie. Twee Griekse magnate, Tsiakos en Stavropolos ,se magstryd en hebsug word deel van die verhaal. Grootskeepse bedrog en afpersing is ter sprake. Die onverwagse einde is heel kreatief.

Arno Levin:

Die deursnee-leser is op soek na enkele sleutelelemente in ’n roman. Goeie, dog realistiese taalgebruik, struktuur en geloofwaardigheid is maar van die dinge wat in ’n mens se gedagtes opkom. Tog is dit die storie, die relevansie, struktuur en ritme daarvan wat op die ou einde die belangrikste is. Hennie Aucamp verwoord dit goed as hy dit die “blote storie” noem.

Te veel Afrikaanse fiksie wil deesdae die diepte van emosie en siel aanraak deur op alles behalwe die intrige te fokus. Gevolglik verander dit in ’n losgetorringde collage van die skrywer se gedagtesketse. Hoe verfrissend is dit dan nie as Riana Mouton juis die teenoorgestelde doen.

Die storie boei die leser van die begin af en behou ’n realisme wat soms soos ’n Hollywood-aksiefilm afspeel. Buiten vir een of twee spelfoute reg in die middel van die boek, is die taal deurgaans treffend en word vloekwoorde, wat tog so oorbodig in dié genre kan wees, net op die regte plekke gebruik.

Miskien kan ’n mens sê Spoorloos bied ’n middeweg tussen ’n lekkerlees spanningsroman en ’n potensiële boekepryswenner. Ongetwyfeld slaag Riana Mouton daarin om die gesoute kritikus en die leek tevrede te stel. En dit is geensins ’n maklike taak nie.

Irene van Staden:

Met sy donker verlede vind Alex Cloete dit moeilik om dag na dag voort te leef en van alles te vergeet. Maar dis nie die ergste van sy probleme nie, hy is platsak, almal sien hom as ’n mislukking en boonop bly sy kind, Zander, by sy eksvrou, Mercia.

Dinge raak nog meer gekompliseerd wanneer sy eks skielik sterf en sy kind spoorloos verdwyn. Dis ’n kettingreaksie van gebeure en emosies wat ontvou wanneer geraamtes uit almal se kaste verskyn.

Riana Mouton se boek vermaak ons met die liefde wat ’n pa vir sy kind het en is ’n uitstekende voorbeeld van konflik en geheime wat in ’n familie voorkom. Dis ’n uitstekende element in ’n verhaal wat enduit boei.