Nóg ’nTREFFER ná debuut-sukses

Deon Meyer het mededinging. Gedugte mededinging. Haar naam is Riana Mouton, en reeds met haar debuut, Reuk van die dood, het sy lesers en resensente gaande gehad. Dit was dus nie ’n verrassing nie toe Reuk verlede jaar die kortlys van die ATKV Woordveertjies vir spanningsfiksie haal.

As liefhebber van spanningsfiksie het ek gewonder hoe Mouton haar fenomenale debuutsukses gaan opvolg. Toe ek Spoorloos begin lees, was dit baie gou baie duidelik: Riana Mouton het gekom om te bly.

Daar is min mense met ’n natuurlike aanleg vir ’n uitdagende genre soos spanningsfiksie, maar Mouton het wat nodig is en sal haar lesers hopelik nog lank verbly.

Sy spin die leser nie toe in ’n vervelige web van onnodige woorde en oorbodige karakters nie. Die pas in Spoorloos is vinnig, die verhaal, nes in haar vorige boek, gestroop van tierlantyntjies en vol naelbyt-intrige en interessante kinkels.

Mouton se hoofkarakters is geloofbare helde. Junior Scheepers, die speurder in Reuk van die dood, sal beslis ’n pos in my polisiemag kry. Alex Cloete, Spoorloos se woedende, driftige held se soektog na sy ontvoerde seun sorg dat ’n mens die boek nie wil neersit nie.

Jy beleef sy frustrasie as pa en sy verbittering oor dit wat alles in sy lewe en loopbaan verkeerd geloop het. Die spook van sy gewelddadige weermag-verlede bly deurentyd kort op sy hakke en die leser wag in spanning vir die breekpunt.

Mouton doen deeglike navorsing; dit wys in haar boeke. Dis hier waar haar natuurlike aanleg vir die genre duidelik blyk, want ’n minder bedrewe skrywer sou dalk maklik die spoor tussen soveel detail byster geraak het. Of erger nog, dalk nie eens aan al die detail gedink het nie.

Daar is familiegeheime en karakters uit die verlede wat die leser al dieper in die web van intrige intrek. Want wat sou die motief wees van die groep gewetenlose misdadigers wat eers Alex se gewese vrou vermoor en daarna sy seuntjie ontvoer?

En, belangrikste van alles, hoe gaan hy sy kind uit hul kloue red?

Spanning is daar genoeg. Ook skop, skiet en natuurlik bloed. Alex is nie verniet opgelei in die gevegskuns nie. Die verhaal ontplooi oor drie vastelande en heeltyd tik-tik-tik die horlosie.

En tussendeur moet Alex ’n paar van sy persoonlike duiwels besweer en dele van sy verlede agter hom laat. Hoe bevredigend vir dié leser om ’n karakter te sien groei!

Mouton skryf klaarblyklik moeiteloos. Haar dialoog is vloeiend en gemaklik, en dis duidelik dat sy haar karakters intiem ken.

Interessant genoeg is albei haar boeke se helde manlik, maar nog meer verfrissend is hoe maklik sy haar manlike karakters se stem vind en hoe skynbaar moeiteloos sy hulle lewende, driedimensionele karakters maak.

Jy voel of jy Alex en Junior Scheepers persoonlik kén as jy die boek uiteindelik neersit. Of nee, eintlik sit mens die boek te gou neer, en soos met haar vorige boek soek jy meer.

Hoewel die leser genoeg leidrade kry, is die einde (selfs vir ’n oplettende persoon soos ek met my voorliefde vir dié genre) steeds ’n verrassing – myns insiens die uitstaande kenmerk van ’n goeie whodunnit.

Spoorloos hoort, net soos Reuk van die dood, op die boekrak van elke liefhebber van spanningsfiksie. Dit vergelyk goed met die Amerikaanse spanningsfiksie van skrywers soos Patricia Cornwell of Nancy Taylor Rosenberg. Hopelik word dit gou aangevul met nog werk uit Mouton se vaardige pen.

Ilse Salzwedel het Riana Mouton per e-pos met vrae gepeper:

Kliek hier om meer te lees...